Willie Pietersen

BA (Theology and Psychology) (UFS), B.Ed. (Hons) (Ed Psych) (UP), M.Ed. (Ed Psych) (UP)

HPCSA: PS 0141194

PR Nr. 0796492

Willie Pietersen is ʼn opvoedkundige sielkundige en het by die Universiteit van Pretoria gekwalifiseer. Hy volg meestal ’n verhalende benadering tot psigoterapie, wat beteken dat hy die lewe as ’n reis sien. Ons kom iewers vandaan en ons is iewers heen op pad. Deur assessering en terapie kan enige mens ontdek wie jy is en sin maak uit jou ervarings en verwagtinge. Dan maak jy op jou eie, en met die hulp van ander, ’n lewe, en skep ’n beroep wat vir jou waardevolle betekenis en lewensgeluk bring.

Willie help graag met leerders wat akademies of sosiaal en emosioneel sukkel en werk saam met ouers, die skool en, indien nodig, ander professionele persone om werkbare oplossings te vind. Dit sluit in aansoeke vir akkommodasies en konsessies by die Departement van Onderwys of by die IEB (Independent Examinations Board).

Hy het begrip vir die belewenis van leerders wat nie volgens hul potensiaal presteer nie, ongelukkig met hulleself is of sukkel om aan te pas. Hy stap ’n pad saam met ouers deur op hul sterkpunte te bou en ouerskapstyle aan te pas waar nodig.

Willie doen ook beroepsberading met volwassenes wat verdere studie, beroepsveranderinge en krisisse moet hanteer.

Voordat hy as sielkundige gekwalifiseer het, was Willie vir 12 jaar ’n predikant by die NG Gemeente Tygerpoort. Sy liefde vir berading het individue en gesinne ondersteun wat geraak is deur trauma, verlies, egskeiding, siektes en ander lewensveranderende omstandighede.

Nadat hy sy studies voltooi het, het hy in 2018 sy internskap by Muriel Brand, ʼn skool vir leerders met fisiese gestremdhede en spesifieke leersteurnisse, asook by Hoërskool Garsfontein, voltooi. Hy was in 2020 werksaam by Duo Edu Senior onafhanklike skool, waar hy behulpsaam was met opvoedkundige sielkundige assesserings, skoolplasings, vakkeuses, beroepsbegeleiding en ondersteuning van leerders met spesifieke leersteurnisse.

Willie het in Julie 2020 by dr. Annalize Green se Multi-Dissiplinêre Terapiesentrum aangesluit.

Hy is 25 jaar getroud met ’n kliniese onkoloog en het ’n 13-jarige seun. In sy aftyd geniet hy die buitelewe, tuinmaak, tyd met sy gesin, kuier by vriende en die geselskap van sy hond, Bella.